'n Ode vir my sus Herma – 24/10/25
- support5208207
- Oct 23
- 1 min read
Eers Wouter. Toe Nina, en amper-amper Leona.
Toe jy. Toe jy. Toe jy.
Een jaar gelede, laat Oktobermaand, het jy ons verlaat.
Dit het begin met vroeë waarskuwings – 'n pynlike rug.
Ons het saam met jou asem opgehou en gebid
vir iets eenvoudigs, iets regmaakbaar.
Tuberkulose, miskien. Iets geneesbaar, asseblief tog, Here.
Toe kom die woorde soos hamerhoue:
Kanker. Pankreas. Stadium 4.
Geen omdraai. Geen omdraai. Geen omdraai.
Ons het gehuil,
maar gekies wat ons as mense doen –
die hamerhoue te pynlik –
het ons teruggetrek in ontkenning,
selfs terwyl die werklikheid
uit die buitewyke van ons koppe geskreeu het.
Mei tot Oktober.
Ses maande se geworstel om jou waarheid te probeer verstaan:
jy is besig om te sterf jy is besig om te sterf jy is besig om te sterf
reg voor ons oë.
En deur dit alles, jy –
so dapper,
teer en broos soos ryspapier,
mooier as wat jy ooit was.
En toe is jy net weg.
Mis jou. Mis jou. Mis jou.







Comments